bosluisbytkoors

Dis nie ‘n lekker siekte nie. Ek voel simpel. Dit het waarskynlik begin toe ons 2 weke gelede na die renostertjies gaan kyk het. Ek is beslis nie daarvan bewus dat ek in die bosse rondgerol het, of iets dergliks nie, so hoekom die boggertjies my nou juis uitgekies het, sal net Murphy weet.
Die eerste dag nadat ons daar was, is my hele lyf vol bytplekkies. Ek weet dat Sushi nie ‘n soet huiskatjie is nie, en verdink haar onmiddelik. Maar hoekom het my man dan nie so baie vlooibyte nie? Ek trek die beddegoed af en sit nuwes op. Ek trek elke aand skoon pajamas aan. Maar die vlooie bly byt.
S se by die werk dat haar vriendin se seuntjie net soveel bytplekkies het, maar dat hulle van die “pepper ticks” op hom gekry het.
Ek vra die aand vir manlief om my te body search – vir bosluise, man! Nodeloos om te se hy stem gretig in. Al wat hy ontdek, is 3 piepklein, velkleurige knoppies, amper nes die katspeentjies waarvan my ouma altyd gepraat het. Dit voel soos ‘n inspuiting toe hy dit met die tweezer aftrek.
Na die naweek se kant toe, is ek dankbaar dat ons toe daarteen besluit het
( of was dit nou die bankbestuurder?) om te gaan kamp in Punda. Ek het beslis nie krag om iets in te pak nie. Beslis moeg gewerk na ‘n halwe jaar.
Saterdag besluit ons om tog Manyelthi toe te gaan – maar net vir een slapie.
Ek voel effe fyn besnaard, maar skryf dit aan PMS toe. Tot ek besef dat dit beslis nog nie sulke tyd is nie. Seker omdat ek weer alles moet doen, terwyl die hele royal family heerlik uitrus. Dis waarskynlik wat my krapperig maak. Die aand slaap ek nie lekker nie. Nee, dis ‘n understatement. Ek slaap SLEG. Die volgende oggend is my kop regtig seer. My rug is so seer en styf dat ek – volgens die man in my lewe – soos ‘n ouvrou stap. By die brunch by Timbavati vra hy luidkeels voor die ander piekniekers hoekom ek dan so snaaks loop. Gelukkig ken ek niemand anders nie.
Terug by die huis kan ek die aand weer nie slaap nie. My nek en skouers is in ‘n spasma, en my laerrug laat my voel of ek enige oomblik in kraam kan gaan. Een van die simpel vlooibyte het nou wrintiewaar gaan staan en sweer. Ja, ja, ek weet ‘n mens moenie krap nie, maar dis net onmoontlik. My hele lyf jeuk – elke bytplekkie. Na ‘n halfuur staan ek met ‘n gesteun op. Nie dat die oordrewe sug- en steungeluide iemand meer simpatiek teenoor my maak nie. Na 2 Myprodols en 2 Allergexe, voel ek weer mens en kry ek dit genadiglik reg om ‘n lekker nag se slaap af te klap. Tot 6 uur die volgende oggend – laatslaap op die vakansiedag in sy dinges. Alles is seer en styf. Ek kan nie glo dat die bed by Manyelethi so uitermate swak was nie.
Ek’s nie lus om enige iets wonderliks aan te pak nie. Doen maar net wat ek moet. Ek sukkel al meer om te loop, want hierdie vrot bytplek voel al hoe omgemakliker.
Woendag by die werk sit ek moeilik. Ek kon nie ‘n langbroek aantrek nie, want dit maak te seer op die “wond”. Ek begin snaaks sit en nog snaakser loop. Voel nes iemand wat gister ‘n blindedermoperasie gehad het. En of die wond enige oomblik gaan oopskeur. My kopseer en lyfseer is die heeltyd hier en ek doen alles in “idle mode”.
Half vyf val ek in by die stapklub, want, reken ek, daar is niks wat stres so kan wegkry soos stap en chat met ‘n mens se pelle nie. Ek vertel hulle van die vrot bytplek en die res van my treurmare, en die diagnose is dadelik “bosluitbytkoors”. Gelukkig het almal ‘n baie goeie rede om nie die normale 5km te stap nie, en ons sny die roete bietjie korter. Voor my huis beveel P: “Jy gaan more dokter toe.”
Hulle was seker almal dokters in hulle vorige lewe, want toe ek vanoggend dink dis waarskynlik naby my einde, en wel dokter toe gaan, is dit inderdaad die diagnose. “Geen oefening vir die volgende 4 dae nie.” Sorry, girls, maar vandag sal ek nie kan stap nie.
Wat die werk betref, kan hulle ook maar bly wees dat ek afgeboek is. Dit voel kwansuis of my brein opgeswel is. Of ek onder die water probeer dink. Alles is stadig en lomp en dommerig. Dink net watter onsinnighede ek sal kan kwytraak?

Die kopseer is die heeltyd daar, maar ek voel nie so sleg daaroor nie, “Want”, het die dokter gese,” vrouens se pyndrempel is gewoonlik baie hoog, so jy besef waarskynlik nie eens hoe seer jou kop regtig is nie”….
Dit laat my tog so ‘n bietjie beter voel.
Vraag is of die royal family iets sal bydra om die sentrale lyfbediende se las ligter te maak. Dat sy net in vrede siek kan wees….seblief?

2 Responses to “bosluisbytkoors”

  1. Vertrou jy kon toe “in vrede siek wees”, maar meer nog: dat dit al sommer stukke beter gaan?

  2. ekke Says:

    ek’s seker die royal familie het probeer om jou in vrede te laat siek wees?

Leave a Reply