bosluisbytkoors

Posted in Uncategorized on 18/06/2009 by miernes

Dis nie ‘n lekker siekte nie. Ek voel simpel. Dit het waarskynlik begin toe ons 2 weke gelede na die renostertjies gaan kyk het. Ek is beslis nie daarvan bewus dat ek in die bosse rondgerol het, of iets dergliks nie, so hoekom die boggertjies my nou juis uitgekies het, sal net Murphy weet.
Die eerste dag nadat ons daar was, is my hele lyf vol bytplekkies. Ek weet dat Sushi nie ‘n soet huiskatjie is nie, en verdink haar onmiddelik. Maar hoekom het my man dan nie so baie vlooibyte nie? Ek trek die beddegoed af en sit nuwes op. Ek trek elke aand skoon pajamas aan. Maar die vlooie bly byt.
S se by die werk dat haar vriendin se seuntjie net soveel bytplekkies het, maar dat hulle van die “pepper ticks” op hom gekry het.
Ek vra die aand vir manlief om my te body search – vir bosluise, man! Nodeloos om te se hy stem gretig in. Al wat hy ontdek, is 3 piepklein, velkleurige knoppies, amper nes die katspeentjies waarvan my ouma altyd gepraat het. Dit voel soos ‘n inspuiting toe hy dit met die tweezer aftrek.
Na die naweek se kant toe, is ek dankbaar dat ons toe daarteen besluit het
( of was dit nou die bankbestuurder?) om te gaan kamp in Punda. Ek het beslis nie krag om iets in te pak nie. Beslis moeg gewerk na ‘n halwe jaar.
Saterdag besluit ons om tog Manyelthi toe te gaan – maar net vir een slapie.
Ek voel effe fyn besnaard, maar skryf dit aan PMS toe. Tot ek besef dat dit beslis nog nie sulke tyd is nie. Seker omdat ek weer alles moet doen, terwyl die hele royal family heerlik uitrus. Dis waarskynlik wat my krapperig maak. Die aand slaap ek nie lekker nie. Nee, dis ‘n understatement. Ek slaap SLEG. Die volgende oggend is my kop regtig seer. My rug is so seer en styf dat ek – volgens die man in my lewe – soos ‘n ouvrou stap. By die brunch by Timbavati vra hy luidkeels voor die ander piekniekers hoekom ek dan so snaaks loop. Gelukkig ken ek niemand anders nie.
Terug by die huis kan ek die aand weer nie slaap nie. My nek en skouers is in ‘n spasma, en my laerrug laat my voel of ek enige oomblik in kraam kan gaan. Een van die simpel vlooibyte het nou wrintiewaar gaan staan en sweer. Ja, ja, ek weet ‘n mens moenie krap nie, maar dis net onmoontlik. My hele lyf jeuk – elke bytplekkie. Na ‘n halfuur staan ek met ‘n gesteun op. Nie dat die oordrewe sug- en steungeluide iemand meer simpatiek teenoor my maak nie. Na 2 Myprodols en 2 Allergexe, voel ek weer mens en kry ek dit genadiglik reg om ‘n lekker nag se slaap af te klap. Tot 6 uur die volgende oggend – laatslaap op die vakansiedag in sy dinges. Alles is seer en styf. Ek kan nie glo dat die bed by Manyelethi so uitermate swak was nie.
Ek’s nie lus om enige iets wonderliks aan te pak nie. Doen maar net wat ek moet. Ek sukkel al meer om te loop, want hierdie vrot bytplek voel al hoe omgemakliker.
Woendag by die werk sit ek moeilik. Ek kon nie ‘n langbroek aantrek nie, want dit maak te seer op die “wond”. Ek begin snaaks sit en nog snaakser loop. Voel nes iemand wat gister ‘n blindedermoperasie gehad het. En of die wond enige oomblik gaan oopskeur. My kopseer en lyfseer is die heeltyd hier en ek doen alles in “idle mode”.
Half vyf val ek in by die stapklub, want, reken ek, daar is niks wat stres so kan wegkry soos stap en chat met ‘n mens se pelle nie. Ek vertel hulle van die vrot bytplek en die res van my treurmare, en die diagnose is dadelik “bosluitbytkoors”. Gelukkig het almal ‘n baie goeie rede om nie die normale 5km te stap nie, en ons sny die roete bietjie korter. Voor my huis beveel P: “Jy gaan more dokter toe.”
Hulle was seker almal dokters in hulle vorige lewe, want toe ek vanoggend dink dis waarskynlik naby my einde, en wel dokter toe gaan, is dit inderdaad die diagnose. “Geen oefening vir die volgende 4 dae nie.” Sorry, girls, maar vandag sal ek nie kan stap nie.
Wat die werk betref, kan hulle ook maar bly wees dat ek afgeboek is. Dit voel kwansuis of my brein opgeswel is. Of ek onder die water probeer dink. Alles is stadig en lomp en dommerig. Dink net watter onsinnighede ek sal kan kwytraak?

Die kopseer is die heeltyd daar, maar ek voel nie so sleg daaroor nie, “Want”, het die dokter gese,” vrouens se pyndrempel is gewoonlik baie hoog, so jy besef waarskynlik nie eens hoe seer jou kop regtig is nie”….
Dit laat my tog so ‘n bietjie beter voel.
Vraag is of die royal family iets sal bydra om die sentrale lyfbediende se las ligter te maak. Dat sy net in vrede siek kan wees….seblief?

werk

Posted in Uncategorized on 28/04/2009 by miernes
“Our work is the presentation of our capabilities,” het Goethe glo gese.  Stel my werk my vaardighede / dit waarin ek goed is, ten toon ? [I don't think so; right now it's the exact opposite]

Of is dit nie al waaroor werk gaan nie?Is dit selfsugtig om te dink met kan /moet jou werk geniet? Is alle werke nie maar tot ‘n groot mate aaklig, bloot weens die sondeval nie? Wat dan van Predikesr 5 wat se dat God iemand seen deur hom/haar hulle kos, wyn en werk laat geniet? Ek geniet my kos en wyn…dalk te veel? Of eet en drink ek dalk te veel omdat ek tot ‘n groot mate ongelukkig is oor my werk?

Dis beslis so dat al my werke my baie skills aangeleer het. Ek sou beslis in sekere afdelings ‘n armer persoon (tov skills) gewees het. Maar wat het ek al in die proses verloor van ‘n werk doen wat nie lekker is nie? Ek het mi tot ‘n groot mate my lus om kreatiewe dinge te doen, verloor. En baie energie.

Nie dat ek al ooit ‘n oormaat van energie gehad het nie, en dalk is dit my subjektiewe persepsie dat ek al beter gevoel het oor my lewe, maar was dit nie tog anders toe ek nie as apteker gewerk het nie? Of het ek maar ewe min reggekry by die huis toe en nie gewerk het nie? Het ek toe dryfkrag gehad, of ‘n lus om nuwe dinge aan te pak?

Dalk is dit eenvoudig my temperament wat altyd krities en nooit heeltemal gelukkig of tevrede sal bly met die stand van sake nie, saam met ‘n lae, lae energievlak? Beteken dit dat ek dalk in geen beroep gelukkig sal wees nie, al verskil dit heeltemal van wat ek nou doen?

Of is daar ‘n middeweg? Waar jou werk nie jou alles is nie, maar tog vreugde en vervulling bring? Hoe sou ‘n mens weet watter soort werk dit vir jou kan doen? Ek glo tog dat daar iets is wat ek kan doen wat vir my baie vreugde kan verskaf, en vir ander mense iets kan beteken. En waardeur my en almal om my se lewe verryk word.

Ek hou van die kontak met mense by ‘n werk. Dalk die een ding wat teen ‘n tuisbly ma tel: vir my was dit moeilik om uit te reik, want ek’s ‘n introvert. By ‘n werk sien ‘n mens noodwendig elke dag ander mense. Ek het nog altyd lekker gewerk tov die kontak met my medekollegas of mense saam met wie ek gewerk het. Daardie deel van die werk was altyd lekker. Toe ek vertaal het, was die afsondering tov die werk juis die slegste aspek daarvan; die feit dat daar geen gesprek of terugvoer rondom sake was nie, was aaklig. Dit bekamp ook my kreatiwiteit. Dis ook vir my moeilik om saam met ‘n baie klein groepie mense te werk, soos 1 of 2. Ek verkies ‘n mediumgroepgrootte situasie. En ek hou baie daarvan om in spanverband te werk. Ek hou baie daarvan om te support. Ek hou nie regtig daarvan om die verantwoordelike persoon te wees nie. Dalk sal dit anders wees in ‘n veld wat my intens interesseer, maar tot dusver wil ek eerder aan my huis en kinders dink as ek daar is, as om die heeltyd te worry oor die werk, en of dinge daar regloop. Veral as ek die verantwoordelike persoon is oor iets waarvan ek skrikwekkend min weet…

Om weer terug te kom na Goethe se stelling…I don’t think so; right now it’s the exact opposite…

Ek wonder… (en hoop)

Hallo blog

Posted in Uncategorized on 28/04/2009 by miernes

Wel, dis die heel eerste keer wat ek ‘n blog skryf – hoop dit gaan vir my werk en lekker wees.

My Blog

Posted in Uncategorized on 26/04/2009 by miernes

So pas ‘n blog begin.